09 January 2011

Het julle ma’s julle nie maniere geleer nie?

Ek en my man het besluit dat dit tyd was om ons vriende kring uit te brei. Dus het ons laas jaar regdeur die jaar verskillende paartjies oorgenooi vir ete en ‘n lekker kuier.

Ons het nou tot die volgende slot som gekom –

Meeste van die paartjies wat ons genooi het, het die neiging om op dieselfde tyd te praat. Probreer dit gerus – om na twee mense te luister wat dieselfde tyd praat en dan nog in te neem wat elkeen te sê het. Jy weet naderhand nie wie om voor te kyk nie.

En nou vir die cherry op die koek – hulle vra jou ‘n vraag en so half pad deur jou antwoord praat hulle alweer. Hulle luister nie eers klaar nie, so hoekom dan ‘n vraag vra?

Ek dink by party van hulle is dit so ‘n gewoonte dat hulle dit nie eers agterkom nie. Doen my ‘n guns – die volgende keer as julle by iemand kuier en julle sien die gasheer en die gasvrou kyk heen en weer soos ape in ‘n hok dan moet julle asseblief ‘n bietjie oplet na julle gedrag.

Ag nee man ..... kom ons gaan weer terug na die maniere wat ons ouers ons geleer het.

Ek sê maar net ........

Daleen G